hy verdien beter

Vandag is ons twee-jaar liefdesherdenking, my en André s’n. Hierdie twee jaar het onmoontlik vinnig verby gegaan. Op een of ander manier voel ek bedrieg, amper asof ek vir die meeste van hierdie twee jaar vas aan die slaap was. Ek hoor altyd daardie gesegte wat beweer dat tyd vinnig verbygaan wanneer jy pret het. Maar het ek werklik pret gehad, of probeer ek net alles wat gebeur het te vergeet?
Ek kan nie met ‘n skoon gewete sê dat die afgelope twee jaar my beste was nie. Ek het daagliks gesukkel net om my kop bo die water te hou. Maar soos hulle sê: aanhouer wen.
André groet my met ‘n sagte soen op my wang. ‘n Swak skoenlapper of twee wapper in my maag en dit neem al my energie om vir hom te glimlag. Hy neem my slap hand en lei my tot sy ma se ou rooi motortjie.
Dit was nie altyd soos dié nie. Ons was nie altyd soos dié nie..
“Is ‘n piekniek okay met jou?”  vra hy my soos hy my by die passasiersitplek inhelp. “Of sou dit te veel wees . . . ?”
Sy stem hang vir ‘n onsekere oomblik of twee in die lug. Selfs na alles waardeur ons al is, wil hy nie hê ek moet myself te veel push en dan seerkry nie. André is nog altyd die tipe persoon om bedagsaam te wees, en hy gee só baie om. Daardie eienskappe maak my hart pyn. Liewe, liewe André . . ..
“Ja, dit is fine,” sê ek uiteindelik en maak die motor se deur toe.
Soos ons na ons eindbestemming ry, waarookal dit mag wees, praat André oor verskeie onbelanrike dinge. Hy is nog ‘n bietjie van ‘n senuweeagtige bestuurder, aangesien hy eers onlangs sy lisensie gekry het. Met my as passasier ry hy tog  so versigtig as moontlik. Hy wil nie hê dat ‘n moontlikheid waar ek kan seerkry moet bestaan nie.
Ons arriveer by die piekniekplek, wat blykbaar André-hulle se agterplaas is. André se gesin bly al die pad in Gonubie, ‘n klein dorpie net buite Oos-Londen.
Die gras onder my voete is klam, maar ‘n groot kombers wat op die gras uitgesprei is belowe warmte en droogte. Daar is geen mooi, romantiese kerse nie; in plaas daarvan is daar ‘n enorme piekniekmandjie wat propvol gepak is. André se Golden Retriever, Lady, lê rustig langs die mandjie.
Ek gaan sit op die warm, dik kombers. Lady herrangsik haarself sodat haar kop op my skoot rus. Ek glimlag effens en vryf haar sagte oortjies terwyl ek vir André wag om te sit. Hy doen so ‘n paar sekondes later met ‘n sagte glimlag op sy gesig. Sy kuiltjies maak my hart gloei. Die sagte note van ‘n Pink Floyd lied kom vanaf ‘n ou, klein draadlose CD-speler. Die bekende klanke ontspan my onmiddelik.
Die piekniekmandjie bevat ‘n paar van my gunstelling eetgoed, wat bewys is van hoe goed André my ken. Binne is ‘n pakkie Speckled Eggs, ‘n Albany donker sjokolade en ‘n ligte pienk bottel Robertsons rosè. Daar is ook tuisgemaakte Hawaiian pizza.
Daar knyp my brose hart en trane dreig om te val. Ek verdien nie André se liefde nie.
Ek weet nie hoe om aan André dankie te sê sonder om te verkrummel nie, so ‘n soen sal moet doen. Hy floreer onder daardie enkele soen en my hart breek selfs verder. Soos hy oor sy wense en drome praat swaai sy arms in geanimeerde opgewondenheid. André se pragtige amandel oë skitter met gelukkigheid en liefde.
Ek verdien André nie. Hy verdien beter as wat ek hom gee.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s